WEEK 5

Maandag

Tien onderwysers afwesig en vier op kursus. ‘n resep vir chaos!

Dinsdag

Ons het oggend byeenkoms, Sitsholi se saak word bespreek en ons moet ‘n plaasvervanger kry uit een van die naby geleë skole, vanaf die herontplooiings lys, maar dit gaan tyd vat , want die saak is nog by Arbeid! Hier kom ‘n onderwyser aan van ‘n naby geleë skool, hy is op die herontplooiings lys! Die arme ou sit net rond en hy kan nie glo die skool is so chaoties nie!

Woensdag

Die arme man sit nog steeds rond,hulle soek ‘n klas vir hom! My Sosiale Studies klas loop rustig, (48 in die klas) Skielik breek ‘n geveg uit,twee kwadiens slaan mekaar, en ek gryp in, die helfte van die klas hardloop uit en die helfte van die res van die skool storm in of hang by my vensters rond! Ons sorteer hulle uit en daar is weer rustigheid, maar net na skool vloei die bloed weer!

Donderdag-pensioen gesteel!

Ons onderwysers kom weer bymekaar vir “morning briefing”. Die hoof gaan aan omdat ons weer ‘n Matric Intervention School (Mip) is, sy blameer die kommersiële afdeling omdat hulle so swak doen. Van nou af moet almal daaglikse beplanning doen! Van die onderwysers lag, ons almal,behalwe die department, weet waar die probleem lê, by die patetiese hoof Toe sy klaar is, herinner ek haar daaraan dat sy die nuwe onderwyser moet voorstel,wat sy toe ook darem doen!

Binqela (onderwyseres) kom my klas binne, “Have you heard about Roxa?”, vra sy, “No”, antwoord ek, en sy vertel die storie oor hoe sy uit R 1 miljoen beneuk is, ‘n Rwandees, wat hom voorgedoen het as ‘n vlieënier het by haar kom kuier, (hy het vir haar ‘n foto van himself in sy uniform gestuur) Hy het blykbaar by 4 ander vroens ook so gekuier, presies geweet wie wat ontvang het en almal beneuk! By ander was hy ‘n B Com gegradueerde besigheidsman (foto met kappie op) ander ‘n besigheidsman (foto in pak). Sy mode operandi,hy belowe sy meisie hy gaan vir haar ‘n huis in ‘n gegoede area koop, dan “deponeer” hy R 1 miljoen in haar bank rekening, maar vra haar later om die geld terug te deponeer omdat hy dit nodig het!Roxa doen dit en die ou verdwyn! Die hoof is baie geskok, sy wys foto’s van die man, “He is quite fleshy!” merk sy op! Roxa sê sy het van die jong man gehou, “Because he was full of energy!” Nou ja, Roxa loop en werk soek, sy gaan haar huis en kar verloor!

Ek kry ‘n boodskap, “Meeting at 17:15 at Ep offices!”. Ek oefen maar tot 16:30 en gaan na die vergadering. Daar gekom is van die mense daar, die Op beampte is in ‘n ander vergadering en ons moet vir hom wag! Ons vergadering begin uiteindelik om 17:30 en ek loop daar uit om 18:35! Wat ‘n lang dag!

Vrydag

Die verkeer is weer erg vandag en die taxis maak soos hulle wil, want geen van ons hoog betaalde verkeerspoliesmanne, is op hulle pos nie!By die skool gekom,sien ek blou ligte van ‘n verkeers poliesman,hy het ‘n taxi oppad na Morningside afgetrek voor ons hek, ek tel 23 kinders wat uitklim,hy skryf nie die taxi,laai hulle net uit, die taxi gaan trek om die draai,natuurlik om hulle weer op te tel,maar die is ongeskikte kinders,hulle staan die wêreld vol en ek vra hulle om pad te gee, maar hulle praat teë, een het genoeg verstand om te sien ek gaan uitklim om hulle te bliksem en hulle gee pad!Hier is chaos in die skool,die matrieks is na ‘n “expo”

‘n Nuwe week

Ek sien my skrummasjien lyk gehawend en vind dat hulle die een arm afgebreek het, hoe de hel kry hulle dit reg? Ek gryp ‘n klomp kinders wat by die werkswinkels leeg lê en vra hulle om die skrummasjien na die werkswinkel toe te dra sodat dit weer gesoldeer kan word, maar hulle hardloop almal weg, sleg! Ek gaan haal maar die rugby spelers en hulle dra die masjien na die werkswinkel. Sowat ‘n uur later kom een van my rugby spelers my klaskamer binne met die los “arm” van die skrummasjien, “They broke it off and wanted to go and sell it!”, sê hy! Ek gryp dit maar te dankbaar en gaan terug na die werkswinkel, die onderwyser is daar, maar het nie gesien dat die arm gesteel word nie!

Korrupsie

Twee van my spelers is by Welkom gimnasium, die een was in gr. 7 en die ander een by ons in gr. 10, en sy geboorte sertifikaat en id lees, 1996! Beide is nou in gr. 10 in Welkom, en ek begin te vis! Blykbaar het die gr. 7 by Ndzondelelo ‘n gr. 9 rapport gekry (en oorplasings dokumente) en die een in gr. 10, ‘n gr.9 rapport en kopie van ‘n id vir 1998! Absolute korrupsie! Die mense van Ndzondelelo wil nie hê hulle moet vir my speel nie, want dit is twee baie goeie spelers! Ek Whatsapp die twee en kry vinnige reaksie, “Wat 4?” vra die een en die ander een sê, “Why are you dragging us down?”, geen respek vir geregtigheid nie, hulle aanvaar die korrupte handeling van onderwysers, maar ek gaan voort krap om die saak op te los! Om dit by OP aan te gee, gaan my nêrens bring nie, dalk by Saru, ek weet nie, of ‘n koerant? Ek sal besluit!Ek kry ‘n oproep vanaf Welkom oor die twee,die onderwyser is geskok,hulle is nêrens op die register nie,natuurlik hulle vane verander en selfs by hulle Whatsapp profiele hulle foto’s afgehaal. Die onderwyser vra dat ek foto’s van hulle deur stuur sodat hulle ondersoek kan instel! (Ek het dit gedoen na oefening en wag op reaksie!)

Donderdag

Ek het een af periode vandag en baie kopieerwerk om te doen (niks het gister gewerk nie) Oppad na die fotostaat masjien kry ek die hoof met ‘n lysie in haar hande, “You are off the first period, so you must go do gate duty!”, sê sy! Ek gaan maar, een van die onderwysers skree op die kinders en hulle hardloop nader! By 8:30 word die rottang uitgehaal en al die laatkommers kry ‘n hou op hulle hande!Baie loop eenvoudig verby en gaan klim deur ‘n gat in die heining agter die skool! So by 8:45 gaan ons in. By 9 vm staan die hek oop en die kinders stroom nog steeds in! Ek is so 10 minute in my eerste periode in, toe kom Xaluva my klas met ‘n klaslys binne, hy soek “bunkers”, ek lees vir hom ‘n paar name, “O” sê hy, “that one is in jail!”, ek gaan verder, “weer sê hy “O, that one is going to have a baby,she will only be back next term!”.Net voor pouse het ek my gr.11’s, twee meisies stap my klas dood luiters binne, en hou ‘n sak vol lekkers na my uit, “Please buy one!”, sê hulle!Ek vererg my en jaag hulle uit! Elke nou en dan kom een my klas in om water te vra,en ek jaag hulle!Die periode moet 11:45 eindig, maar om 11:30 is die hele skool al buite,besig om “magwinyas” (vetkoeke) te koop, die klomp in my klas is paniekerig en sê, “Please, Umlungu,let us go,otherwise there’s going to be no more magwinyas for us!”. Ek vat my stoel en gaan sit in die deur,niemand kan verby kom nie, maar by 11:35 is dinge al so chaoties dat ek hulle maar laat gaan!

Vrydag-bedwelmde gevegte

Die skool begin heel normaal,die predikant preek net te lank!So om en by 10 vm breek die hel los op die 2de verdieping, twee seuns is in ‘n geveg, die skool storm uit,die op die 2de verdieping gil af en die op die grond vloer gil op! Die een adjunk beweeg op die grond vloer om te kyk wat aangaan, soos hy loop hardloop die kinders terug in die klas en soos hy verbygaan storm hulle weer uit! Ek gryp ‘n besemstok en gaan kyk wat aangaan! Twee juffrouens is klaar daar, een seun het trane in sy oë,maar hy lyk ver weg,die ander een wat wegloop sê net, “intsango!”, (dagga!) Die kind is halsstarrig toe die juffrou hom kantoor toe vat,ek help hom ‘n bietjie aan en hy is ongeskik,nog ‘n stamp en hy beweeg! Ons kry hom by die kantoor,maar hy is dik gerook! Hy word uitgevra, hy moes sy foon “pand” vir R 50 om dagga te koop, later wou hy sy foon terug hê, maar die ander seun wat die R 50 moes betaal het geweier, en toe die geveg! Ek raai hulle aan om die polisie in te kry, want die hoof het lankal beheer oor die skool verloor!

Ons het 1 nm ‘n rugby vergadering, die Mzwandile Mali toernooi word bespreek! Ons begin 1:20, en nog skole daag op, naderhand 10. Dit is veronderstel om net ‘n trekking te wees, maar baie vrae word gevra, die een na die ander en die antwoorde is langdradig! Uiteindelik is dit om 3:10 klaar, ek wil loop , nee, komitee vergadering en die gaan aan to 3:40, ek is gatvol daar weg! By die stopstraat staan ‘n taxi net links verby dit, ek kan nie sien wat aankom nie en ry, skielik is ‘n munisipale kar op my met ‘n helse spoed in ‘n 50 km area en van regs kom ‘n kar ook met ‘n helse spoed, ek slaan remme aan enhulle snel verby en ek vloek die têksie! Ek kom so voor 4 nm by die huis aan, met ‘n omgekrapte vrou wat my inwag….!